Images

Euforie word gedefinieer as ʼn staat van intense vreugde, geluk, behaaglikheid. Nooit het ek kon dink dat my belangstelling in genealogie tot vele sulke euforiese-, hoendervel- en selfs eerbiedige oomblikke kon lei nie.
In Maart 2018 arriveer vyftien verpakte kartondose uit Bristol in Engeland by ons aan't huis. Die ontginning van hierdie houers het ʼn vier-weke lange staat van innerlike histeriese vreugde by my ontketen. Ons huishouding het tot ʼn knersende stilstand gekom en my gesin moes maar met geduld verlief neem met my akute toestand. In die houers was die besittings van my man se ouma (Hilda Watney Jamison née Wilson, 1912 – 2012) en tante (Jean Alison Jamison, 1952 – 2015) wat deur die familie uitgesorteer is en na die Jamisons in Suid-Afrika aangestuur is. Die inhoud het ingesluit stapels ou familiefoto's (waarvan die meeste geïdentifiseer was), 19de eeuse amptelike dokumente soos huweliksertifikate, testamente en koop/verkoop kontrakte, pakke neergepende familieregisters, -geskiedenisse en -stories, ou boeke, joernale en ‘n Bybel wat aan voorvaders behoort het, oorspronklike waterverf-kunswerke deur vroulike voorsate wat in die 1800s geleef het, koerantuitknipsels en familiebriewe uit die 19de en 20ste eeu gedateer, insluitend briewe van krygsgevange-familielede asook kosrantsoen-koeponne uit die Tweede Wêreld Oorlog, en artefakte soos juwele, ʼn uitgekerfde ivoor-juwelierhouer uit Britse Indië en - vir my die kosbaarste - die seremoniële swaard van my man se grootoom (Antony Geoffrey Jamison, 1910 – 1939) wat op 3 Junie 1939 in die HMS Thetis duikbootramp aan die Walliese kus oorlede is.
Ek het geen erg aan die geldelike waarde van al hierdie items nie. Inteendeel, die onskatbare historiese en sentimentele waarde daarvan is vir my van veel groter belang, en móét vir die nageslag (en historiese navorsers) bewaar bly. Oor ‘n tydperk van drie maande is al die inligting en foto's met opgewondenheid bygewerk op my bestaande webwerf The converged history of families Kruger and Jamison (http://altathegenealogist.org.za). Nou sien die geskiedenis van die Brandreth, Green, Heyworth, Jamison, Wilson en Wrigley families soveel vollediger, akkurater en ryker daar uit.
Ek voel baie geëerd dat die Jamison-familie my as kurator van hul familie se geskiedenis aangestel het en hoop om tannie Jean se kundige skoene vol te kan staan. Die euforie duur voort …